Mount Komati

Staproetes

Staproetes

Die Mount Komati - Iets van alles staproetes

Opsomming:

Die natuurplaas en staproetes is geleë tussen Machadodorp en Badplaas op die Drakensbergeskarp van Mpumalanga, wat beteken dat ons in 'n wonderskone omgewing, maar tog gerieflik naby aan Gauteng en Limpopo, selfs KZN geleë is.

Pragtige, gerieflike klip met grasdak huisies. 
Ten volle toegeruste basiskamp. 
Sommige chalets met linne, ander slegs paslakens. Plek vir 20 gaste.
Dag 1: Rondomklip 12.7 km, 7 ure. Matig tot moeilike gradering, afhangend van ouderdom en stapfiksheid. Gereëlde stappers diep in hulle 60's voltooi roete gemaklik, maar minder fikse, ongereëlde of ouer stappers mag swaar kry. 600 m hoogteverskil. Groot verskeidenheid topografie, sonderlinge en skaars wild, voëls en plantegroei. Waterstroompies, pragtige tonele en uitsigte.
Dag 2: Klein Paradys 4.5 km maklik tot matig. Verbasend anders as Dag 1. Stroompies, watervalletjies en eindig al langs die Komatirivier.
Dag 3: 'n Derde, pragtige en maklike 3.5 km roete is gebou en opsioneel beskikbaar.

Volledige inligting:
Basiskamp:
Daar is drie sirkelroetes wat almal vanaf die basiskamp vertrek. Stappers keer dus na elke stap terug na dieselfde kampie.
Ons akkomodasie is ook heel fêncy, in stappersterme. Die huisies is gesofistikeerde klip en grasdak eenhede met Eskomkrag, linne, breekware, potte en panne wat alles eintlik deel van ons lodge vir vlieghengelaars en soortgelyk was, maar effens aangepas is om vir die stappersmark ook voorsiening te maak.

Om ons staproetes te ondersteun het ons tydelik drie van die huisies (Mojaji, Idube & Wildebees) in dorm-tipe kamers omskep tot tyd en wyl die stapkampie opgerig is. 
Mojaji het 2, en Idube & Wildebees het elk 3 stapelbeddens in, standaard enkelbedgrootte (188 x 91cm) met kwaliteit hoëdigtheid Ericssons matrasse van 150mm dik en oorgetrek met netjiese paslakens, of linne as opsie.
Tarentaal chalet is 'n luukser familie tiepe selfsorg eenheid. Hy beskik oor 'n hoofslaapkamer met dubbelbed, 'n oopplankamer met 2 enkelbeddens (als met linne, gesig- & storthanddoeke) 'n eie, aparte badkamer met stort, toilet en wasbak wat dit gerieflik vir almal maak (dus nie en-suite nie). 'n Goed toegeruste kombuis met breekware en basiese kookgerei, 'n eetkamer en houtstoepie wat oor die tuin, Komatirivier en Skurweberg uitkyk rond als mooi af en verseker dat ons gaste goeie waarde vir geld ontvang.
Die kampie bied slaapplek aan 20 gaste totaal.
Kontak ons asseblief direk indien u u eie tente of kampeerwaentjies wil gebruik.


Dag 1

Die Rondomklip-roete is 'n lekker eerste dag stap, omtrent 12.7km, met 'n reuse verskeidenheid in topografie, landskap, plante-, voël- en dierelewe.
Trek weg op die laagste punt op die plaas langs die Komatirivieroewer, 1230m bo seevlak, dan deur golwende heuwels en grasvlaktes met middelveldbos, kronkel deur oeroue klipkrale uit verskeie eras, oor vlaktes heen waar vlakte- en boswild soos bv zebras, wildebeeste, bosbokkies & koedoes, uitsonderlike voëlspesies soos byvoorbeeld Knysna loeries, katakoeroes, bosloeries, kalkoen ibisse en kransaasvoëls gesien kan word. Sonderlinge en skaars plantegroei wissel tonele op gereëlde maat af. Bewonder 'n enorme pragtige ou Kiepersolboom, of raak verlore in wat herhinner aan 'n toneel uit die rolprent, AVATAR. Hierdie roete neem mens se verbeelding voorwaar op 'n tog van sy eie...

Dan is dit deur klofies met oulike waterstroompies en watervalletjies tot 'n lang stuk waar mens reg teen die voet van die aasvoëlkrans kronkel waarna mens dan tot bo op die eskarp stap om die asemrowende vergesigte te sien oor valleie en dale heen, amper tot in Swaziland! Kyk uit vir onder andere die baie skaars oorbietjies, ribbokkies en klipspringertjies! Die roete krul dan deur 'n doolhof van ongelooflike mooi verweerde sandsteenrotsformasies tot by die hoogste punt op die plaas, 1830m bo seevlak voordat hy bo langs die mooie Komati-skeurvallei sy draaie deur golwende hoëveld kortgrasland maak om dan weer af te sak totdat mens weer langs die Komati is om lekker in 'n groot seekoeigat te swem, so 500m van die kampie af.

Die roete word gereken as "matig tot moeilik, met tegniese aspekte".
"Matig", omdat dit 'n redellik lang roete is met 'n hoogteverskil van 600m en 'n totale klim van ongeveer 865m. "Moeilik", as jy nie fiks is of 'n gereelde stapper is nie. "Met tegniese aspekte", omdat daar soms oor klippe of onderdeur stompe geklim en geklouter word, maar daar is geen kettinglere of ander vreesaanjaende hindernisse nie, net lekker natuurlike avontuur! 
'n Redelike mate van fiksheid word wel vereis. Gereelde stappers voltooi die roete normaalweg in 6 of 7 ure. Alhoewel die jonger klomp Dag 1 sommer tjop-tjop afrandsel, mag ongereelde stappers en onfikses swaarkry.
Om dinge in perspektief te stel, gereelde, fikse stappers van diep in hulle 60s, en selfs 70s, stap gereeld by ons en voltooi hierdie roete gemaklik en geniet hom baie. 
Meeste van ons gaste keer keer op keer terug; heelwat van hulle selfs vir hul vierde keer, en die roetes is maar slegs vier jaar oop! Nog 'n persoon, byvoorbeeld, het ons ontdek en was voordat 2 maande vertryk het, 3 maal terug en het reeds navraag vir 'n volgende datum in die komende maand gemaak, én bevestig! As jy eers hierdie natuurskat ontdek het ........

Dag 2
Die Klein Paradys-roete, is 'n lekker kort roete van omtrent 4.5km. Dit gee genoeg geleentheid om 'n lekker laatslapie in te kry, op te staan, die roete te geniet en dan gemaklik op te pak voor die terugkeer huistoe. 
Dag 2 neem mens deur verbasend anderse topografie as Dag 1 en maak dit moeilik om te glo dat albei roetes selfs in dieselfde omgewings is, wat nog te sê op die selfde eiendom! Die natuurskoon en verskeidenheid hier is voorwaar voortreflik! 
Na 'n anderhalfuur of so, eindig hy 100m stroomaf van die kampie waar jy op die rotse kan skoen-uitskop en 'n plons in die poel neem, of jou rug in die natuurlike jakoetsie kan masseer sodat jy môre weer springlewendig by die werk kan voel!

Dag 3
Gedink die verskeidenheid eindig hier? Heelaas nie! Allawêreld wat 'n oulike klein roete!
Eers deur die rivier, kom die stapper sommer gou by Madiba's Stone waar 'n prentjie van 'n man se kop duidelik deur die weerselemente op 'n oorhangrots in die skadu van 'n Wag-'n-bietjieboom geskilder is. Raaswater Rapids langsaan bied fotogeleentheid soos min. Drapeer jou vrinne oor die rotse met die Komati, stroomversnelling en berge in die agtergrond. 
Likkewaanlaan neem jou dan na die seekoeigat genaamd "Amos se Gat", net 5 minute se stap weg, en daarna na Pupkewitz's Pools, 'n maalkolkeiland in die rivier en dan na Bushpig Bush wat geleentheid gee om in die koelte te stap (hierdie is ook 'n heerlike Lover's Lane en honeymoon-plekkie...) 'n Entjie aan swaai die stappie weg en swenk mens al met die bergstroompie langs die heuwels in onder die bedekking van inheemse bos waar die skugter Bosloerie skuil. Nuuskierige Knysnaloeries sal tien teen een hul opwagting maak, so kyk in die boomtoppe rond; hulle purperrooi vliegvere slegs beskore vir die hooftooisel van die Swazi-koning.. 

Die Omgewing
Die plaas lê in die Komati-vallei in die Drakensbergeskarp van Mpumalanga en het 'n baie gematigde klimaat; effens warmer as Pretoria en effens koeler as Baberton. Dit beteken dat ons lekker warm sonskyndae het, maar koel genoeg is om nie 'n malarea-area te wees nie en jy ook nie 'n krokodil of seekoei in die rivier sal teëkom nie! Windstil aande sorg vir fantastiese buitebraai weer amper heeljaar lank, sélfs in die kouer wintermaande. Prentjies van die plaas en chaletjies is hier

 

Groenvlagstatus
Ons twee amptelike roetes, Dag 1 & Dag 2, is deur een van die legendariese roetekenners uitgelê en professioneel gebou en het reeds groenvlagstatus ontvang wat van tyd tot hersien en hernu moet word.
Deeglike onderhoud word op 'n gereelde basis gedoen.
Die roetes is goed gemerk sodat stappers nie verdwaal nie.
Daar is selfoonopvangs op meeste plekke op al die roetes.

Alternatiewe 4, 5, 6, 7 of selfs 8 dag Rugsakstap!
Nuus is dat ons bure, die welbekende Num-Num, ons genader het om by hulle aan te sluit om nog 'n uitsonderlike dimensie aan die roete te verleen. Nou is daar 'n rugsakstaproete van tussen 4 & 8 dae en wat oor 4 verskillende eiendomme strek, beskikbaar en wat beloof om een van die mooistes en mees aanloklike in ons skone land te word. Geen slackpack opsie is hier beskikbaar nie, jammer, hierdie is slegs vir die ware rugsakstapentusias!
Vir gerieflikheidshalwe bespreek stappers hierdie roete-opsie direk by Mt Komati en ons sorg vir die res. 
Nouja, vir dié wie kans sien hiervoor, ons verwelkom julle graag! Doen gerus navraag omtrent hierdie epic opsie wat elke soutwerd stapper op sy/haar kerfstok wil hê! !

Geriewe:
Daar is 'n volledig toegeruste kombuisie met potte, panne, kombuisgerei, eetgerei, gasstoof & -oond, mikrogolfoond, yskaste, kisvrieskas ensovoorts.
Stappers bring slegs eie slaapgoed, stapgoed, sitgoed* & álle consumables. (kos, drankies, sepies, "Blitz", vuurhoutjies ensovoorts)
*LW: Daar word geen voorsiening vir stoele gemaak nie, elke gas moet asseblief sy eie kampstoel saambring. Dit kan ook van ons gehuur word, kyk hieronder by Opsionele ekstras.
Toiletpapier word voorsien.
Indien u die kampie privaat wil neem, moet 'n minimum van 12 gaste bespreek. Vra asseblief spesifiek hiervoor. Normale tarriewe geld.
Kleiner groepe mag dus kampie met ander stappers deel, maar elke groep sal sy eie hut of chalet hê.
Slegs die gemeenskaplike kombuis, braaigeriewe en ablusieblok word dan gedeel.

Tariewe
Standaard tariewe:

BPC REPORT 4: 1.1.6 Free 28/03/2024 16:56:59 Active Has SSL Checklist Table Built